|
Die Bloemfontein-kamp was
een van die eerste konsentrasiekampe in die Vrystaat en het reeds in Oktober 1900 bestaan.
Weens die toename in die getal vroue en kinders wat daar aangehou is, moes die kamp
mettertyd in twee verdeel word. Dit het in September 1901 reeds uit die "nuwe"
en "ou" kamp bestaan. Hierdie kamp was meer as drie myl buite Bloemfontein, teen dorre koppies aan die
westekant van die dorp. Soos ander kampe in die Vrystaat, is die inwoners van die kamp
hoofsaaklik in kloktente gehuisves. 'n Paar het egter markiestente gehad.
Bloemfontein-kamp was geen
uitsondering ten opsigte van die groot aantal sterftes wat in die kamp plaasgevind het
nie. Die inwoners was verplig om hulle geliefdes besonder ver na hulle laaste rusplek, in
die President Brand- en Memoriam-begraafplase, te neem.
Een van die mees opvallende kenmerke van die Bloemfontein-kamp,
was die skaarste aan water wat deurentyd ondervind is. Pogings moes gedurig aangewend word
om voldoende was- en drinkwater te voorsien. Benewens hospitaalgeriewe, beslaan
aanbevelings oor watervoorsiening die grootste deel van die Dameskomitee se verslag oor
die kamp.
Ander oorsake van ongerief en sterftes onder die kampinwoners, was die swak
voedselvoorsiening (veral vleis), die gebrek aan behoorlike matrasse, en die gebrek aan
mediese sorg.
Die Vrouemonument, as simbool van lyding en
sterwe onder vroue en kinders van al die kampe, is besonder gepas in Bloemfontein opgerig,
waar die grootste deel van die kampbevolking in die Vrystaat saamgetrek was.
Die beproewings van die vroue in die kampe is
sekerlik enig in sy soort. Nog nooit tevore is byna 'n hele
vrougeslag van 'n volk ontwortel, en in sulke moeilike omstandighede geplaas nie. Hulle
moes daagliks letterlik veg om oorlewing.
Vroue van voortreflike karakter is deur parmantige en onbeleefde offisiere en
amptenare in draadkampe geplaas, vir beuselagtighede of denkbeeldige oortredings.
Die kamp se bevolking het van 4704 in Julie 1901, tot 6322 aan die einde van
November 1901 toegeneem. Volgens Emily Hobhouse,
moes daar tot tien persone in een kloktent woon. Dit het volgens dr. Henry Becker, 'n
regstreekse bydrae tot siekte-epidemies in die kamp gelewer.
Twee-derdes van die inwoners moes op die grond slaap. Dit het tot longontsteking
gelei.
Vanaf 1 Mei tot 18 September 1901 het 524 mense in die kamp gesterf. Die totale
getal sterftes in die kamp was 1695.
Elke persoon het een pint (sowat 450 ml) water per dag ontvang.
Dit is met waens van die Modderrivier af aangery. Om die gebrekkige
watervoorraad aan te vul, was daar drie waterpompe in die kamp.
Mattie Pretorius skryf dat sy elf uur in die son by die pomp moes staan, om twee
emmers water - en dit vir sewe persone - te ontvang.
Mev AS Greyling maak melding van die ou dam waarin die vroue hulle wasgoed gewas
het. Hulle het dit die Dam van Trane
genoem.
Sterfgevalle
As iemand gedurende die nag gesterf het, het die vroue die liggaam uitgedra, en
in 'n paadjie langs die tente geplaas. Dan het 'n perdewaentjie stadig nadergery. Die
drywers het uitgeroep: "Anyone dead?" Die familie het dan die lyk op die
waentjie gelaai, wat soms reeds half-vol lyke was. Die lyke is langs mekaar en bo-op
mekaar gepak.
|