| |
Kleredrag
tydens die Tweede Vryheidsoorlog
|
| |
|
Vrouedrag
tydens die Tweede Vryheidsoorlog |
| |
| Bloese en rompe
(Inligting soos verskyn het in De Camp Courant nommer 4) |
| |
| Teen die tyd dat die
oorlog in 1899 uitgebreek het, was daar 'n klompie Boerevroue wat baie welgesteld was.
Daar was egter ook dié wat maar gesukkel het om 'n bestaan te voer.
Dié wat dit kon
bekostig, het klere by die groot winkels op die dorpe en in die stede gekoop en dikwels
selfs per katalogus van oorsee af bestel. |
| |
|

Kliek duimnael vir groter weergawe
Fotobyskrif: 'n Groep vroue in 'n Vrystaatse konsentrasiekamp.
Foto voorsien deur die Nasionale
Kultuurhistoriese Museum |
Alternatiewelik is 'n
prentjie uit 'n tydskrif na 'n kleremaakster geneem, terwyl baie ook hulle eie klere
gemaak het.
Mense het natuurlik
werksklere en kisklere gehad. Dit het nie soseer in snit verskil nie, maar beslis in
materiaaltipe en versiering.
n Plaasvrou sou nie in 'n syrok staan en
seep kook nie. Verder was daar plaasvroue, dorpenaars en stedelinge.
|
| |
|
Foto's wat skuins voor
die Oorlog geneem is, toon baie Boerevroue in deftige, modieuse drag, maar daaraan sou die
oorlog 'n einde bring.
Die Engelse se afbrand
van huise en vernietiging van besittings, het veroorsaak dat menige vrou slegs die klere
aan haar lyf oorgehou het.
Gevalle
is opgeteken waar vroue 'n paar rokke oor mekaar aangetrek het vir ingeval hulle weggevoer
sou word. Dikwels was dit die kisklere wat gered is.
Met
verloop van tyd het klere al skaarser geword en het vroue vir hulleself van al wat lap is
- tot Kakiekomberse en saggebreide leer - klere gemaak. Rokke is oor en oor gelap.
|
| |
|
Fotobyskrif:
Die Boerevroue was fyn,
netjiese mense, wat selfs in die Britse helkampe nie hulle waardes verloor het nie.
Elizabeth van Niekerk, gebore Davel (links) en twee vriendinne was in die konsentrasiekamp
naby Durban. Die dame in die middel het al drie hierdie rokke in die kamp gemaak van
materiaal wat sy kon red toe die kakies haar huis afgebrand het.
Photo: Boer woman, were dainty and
neat people, did not loose their values in the British hell camps.
Elizabeth van Niekerk,
(maiden name Davel (left)
and two friends, were in the concentration camp near Durban. The
lady in the middle made al three dresses for material she was able
to rescue from her house before it was burnt down by English
soldiers (Khakis) |
 |
| |
|
Emily Hobhouse skryf hoe menige vrou haar
naaimasjien gered het en kamp toe geneem het.
Sy en
haar komitee, wat probeer het om die lyding in die kampe te verlig, het menige
hulpbehoewende vrou en kind van klere voorsien, wat wyd en syd ingesamel is.
Hulle
het ook materiaal uitgedeel, waarvan die vroue dan self klere gemaak het.
Na die
oorlog was die situasie net so erg. Baie vroue het nog steeds slegs die rokke waarin hulle
kamp toe is, besit. In so 'n geval moes 'n vrou dikwels langs die water sit en wag vir die
rok om droog te word nadat sy dit gewas het, voordat sy met haar dagtake kon voortgaan.
Veral in die winter was dit erg.
|
| |
|

Kliek duimnael vir groter weergawe
Fotobyskrif: 'n
Paar Boerevroue wat tydens die Tweede Vryheidsoorlog in die tronk beland het, met tipiese
drag uit daardie tyd. |
Oor die
algemeen is rompe met bypassende stywe lyfies of losser bloese van 'n ander materiaal
gedra, dikwels met 'n bypassende baadjie daarby.
Daar is volle
besonderhede, asook patrone, in 'n handleiding beskikbaar. Dit is deur die Nasionale
Kultuurhistoriese Museum gepubliseer.
Vir
meer besonderhede kan André Malan of Annemarie Carelsen
genader word. |
| |
|
Kinderklere tydens
die Tweede Vryheidsoorlog |
|
(Bydrae
geskryf
deur André Malan) (Inligting soos verskyn het in De Camp Courant nommer 6) |
| |
|
Teen
die tyd dat die Tweede Vryheidsoorlog uitgebreek het, het kindermodes al 'n rewolusie
ondergaan. Voorheen het kinders meestal soos miniatuur weergawes van hulle ouers gelyk.
Eers teen die einde van die Victoriaanse era het kinderklere verander, hoofsaaklik te
danke aan verbeeldingryke sketse van kinderboek-illustreerders. Te oordeel aan foto's uit
daardie tyd, was die Boere heel bewus van dié neiging.
Die
Boerekind het altyd iets op die kop gehad; die seuns vilt- of strooihoede en die dogters
kappies.
Seuntjies
het knielengte kortbroeke met kruisbande, langmouhemde en baadjies gedra. Knielengte swart
kouse is vir spesiale geleenthede saam met skoene aangetrek. Vir kisdrag was 'n deftige
fluweelpakkie met 'n kantkragie gewild vir klein seuntjies. Ook matroospakkies is gedra.
Ouer
seuns het onderbaadjies gedra. Die oorskakeling na langbroekdra was 'n aanduiding dat 'n
seun man word.
Dogtertjies
het rokkies met hoë lyfies, waaraan die rompe ingeryg is, gedra. Die romp het tot net
onder die knie gehang. Pinafore-tipe voorskote is bo-oor gedra om die rok te beskerm. Ook
hulle het swart kouse en skoene gedra.
Ouer
meisies se rokke het die snit van hulle ma's s'n begin volg; meestal 'n romp met los
bostuk of bloes, maar eers as sy haar Boerematriek geslaag het, is die rok se lengte tot
op die enkels verleng.
Soos
die oorlog gevorder het, het die kinders se klere agteruitgegaan. Dié wat onverhoeds
betrap is, was die slegste daaraan toe. Hulle klere was gou gehawend en hulle was op die
goedhartigheid van ander aangewese. Ander se ma's het hulle vroegtydig 'n paar stelle
klere oormekaar laat aantrek, sodat hulle langer geklee kon bly. Met die wegvoering na die
konsentrasiekampe, is mense met net die klere aan hulle lyf toegelaat.
Emily
Hobhouse skryf egter dat talle kinders kaalvoet en sonder onderklere in die dunste
kleertjies in die kampe rondgeloop het.
|
| |
|
Hoed of kappie?
(Inligting soos verskyn het in De Camp Courant nommer 3) |
| |
|
Fotobyskrif: 'n Groep Boerevroue in
Newcastle met gewere en bandeliers, maar keurig geklee in die mode van daardie tyd. Hier
kan gesien word dat hoede, eerder as kappies, as uitgaandrag gedra is. |
 |
| |
|
Het die
Boerevroue tydens die Tweede Vryheidsoorlog hoed of kappie gedra? Watter een sou meer
gepas wees om tydens die herdenkingsgeleenthede te dra? Net soos die geval met die Voortrekkervroue, is daar 'n geykte gedagte dat die
vroue tydens die Tweede Vryheidsoorlog almal met swaar, swart kappies rondgeloop het.
Die feit is egter dat daar teen die tyd dat die oorlog uitgebreek het 'n wye
sosiale spektrum onder die Boere bestaan het. Party was welgesteld en party arm. Party het
in of naby stede of groot dorpe gewoon en ander afgesonderd op verafgeleë plase.
Die gevolg was 'n groot verskil in kleredrag. Vroue met groter beursies en nader
aan die geriewe van die winkel en professionele kleremakers, het beter aangetrek as hulle
armer susters.
Foto's uit daardie tyd wys dat, selfs in die konsentrasiekampe, sowel die hoed
as die kappie gedra is.
Die strooihoed of "boater" met sy vlak, plat bol en breërige stywe
rand was baie gewild, veral onder die jonger vroue. 'n Breë hoedeband van gestreepte lint
is om die bol gestrik. Een vrou het glad in hierdie lint geld versteek voordat sy gevang
is, en het daarmee geslaag om te oorleef.
'n Hoed van dieselfde vorm, getooi met drapeersels en vere, wat dikwels aan die
een kant optoring die lug in, is ook deur die ouer garde gedra.
Die kappie het in verskillende vorms voorgekom, meestal swart of wit van kleur,
maar voorbeelde van lap met fyn kolletjies of patroontjies het ook bewaar gebly.
Hierdie kappies is veral op die platteland gedra as beskerming teen die fel son.
Dikwels is 'n lap om die kop gewikkel voor die kappie opgesit is.
Die sloopkappie is in 'n halfsirkel gesny en 'n skuifie om die geronde kant op
'n reëlmatige afstand van die soom gewerk, waarin 'n toutjie geryg is wat ingetrek is om
die bol aan die een kant en die nekval aan die ander te vorm. Die rand self is dubbel, met
'n tussenvoering, en deeglik deurgestik in sierpatroontjies om dit styf te laat staan. 'n
Valletjie wat in die middel opgeryg of geplooi is, versier dikwels die kappie waar die
rand ophou.
Bo en behalwe die lapkappie, was daar ook die sogenaamde "bonnet", wat
veral die ouer vroue as deftige drag gedra het. Dit was kleinerige, ronde hoedjies van
duur lap soos brokaat of fluweel of spesiale hoedegaas, wat oor 'n draadraamwerk getrek is
en met vere, glaskrale en blinkertjies versier is. Dit is met twee lang linte wat om die
ken gestrik is, op die kop gehou.
Boerevroue wat periodedrag vir die
feesgeleenthede wil aantrek, het dus 'n wye keuse van hoofbedekkings.
|
| |
| |


















|