| |
Waterbergse-konsentrasiekamp, Nylstroom
|
| "Nieteenstaande allerlei skrikaanjagende gerugte oor die handelswijs van die naderende Britse troepe, was mij antwoord: 'Hulle
is tog beskaafde mense en Kristene oor algemeen net soos ons, Tante,' aan
'n ou'e moeder in Swa'ershoek, toe sij mij angsvallig vra: 'Sal
hulle ons tog nie sleg behandel nie als hulle ons in hande krij?' Ik
wis toe nog nie dat mij ei'e vrouw en kinders met andere saam in 'n stortbui op 'n
volgepakte perretruk moes opklouter met Irene kamp als
bestemming. Hoe beskaamd moes ik agterna uitkom!" (Ds JA van Rooy van Nylstroom)
In Maart tot April 1901 het die Britse magte die Waterbergse gebied al met die
spoorlyn langs binnegedring tot in Soutpansberg. Die Boere het geweet dat Kitchener ook
hier sy verwoestingsbeleid gaan toepas, en gesorg dat die vroue, kinders en ou mense
dieper die Bosveld intrek.
Vroue het met hulle vee en graanbelaaide waens voortgetrek en verskillende laers
gevorm, maar hulle is die een na die ander deur die Engelse oorrompel en teruggevoer na
Nylstroom, 'n klein Waterbergse dorpie wat aan die hoofspoorlyn tussen Pretoria en
Pietersburg lê.
Die agtergeblewe gesinne is ook van hulle plase af weggevoer Nylstroom toe en
die huise en skure op die plase is afgebrand tot op die grond. Alle diere is weggeneem of
doodgesteek.
|
| |
|
"Laat ons 'n dekmantel werp op goddelose wandade
en onmenselike wreedhede ook op hierdie sogenaamde 'Agtervelde' gepleeg deur barbaarse
swartes en enkele persone met blanke vel maar ewe swart harte, - want ook hier is dinge
gebeur wat die lijder daaronder net so goed als die pleger daarvan verkies ongerep te blij
liewer dan aldeur opgerakel te word." |
| |
| Hier en daar het die Engelse troepe 'n gesin agtergelaat, met alles verbrand en
verwoes, dakloos, sonder 'n kriesel kos of medisyne, om die Boere plase toe te lok. Dit
was "hemeltergend" om te aanskou hoe die ander vroue, bejaardes en kinders te
voet aangejaag is en die grootste vernedering moes verduur. Vroue van vegtende burgers is
as gevangenes beskou en behandel. Die rede vir die ellende waarin die vroue en ou mense
verkeer het, was die vreeslike haas waarmee hulle uit hulle huise geskop is. Baie het met
leë hande by die kampe aangekom. So het die Nylstroomkamp op 1 Junie 1901 ontstaan met kaptein Henry Cooke
as hoof. Die kamp is opgeslaan op die destydse oop plein tussen die Gereformeerde Kerk en
die Braksloot, wes-suid-wes van die spoorwegstasie, op die terrein waar die Eenheidskool
tans is. Met die opening was daar 743 mense; die einde van die maand was daar reeds 1087
en na twee maande het die getal tot 1514 gestyg. In September is die hoogtepunt bereik
met 'n inwonertal van 1851, bestaande uit 683 vrouens, 835 kinders en 332 mans.
|
|
Fotobyskrif: Mev Lucia van den Berg van
die Vroue-komitee op 10 Oktober 1998 in Nylstroom se konsentrasiekampkerkhof saam met
Simon van der Westhuizen (middel), Martin en Andries van Heerden. Simon hou 'n seepkissie
vas. (Foto regs) |

Kliek duimnael vir groter weergawe |
| Van die kampinwoners het 544 gesterf, en dit vir so 'n dunbevolkte gebied soos
Waterberg! Die meeste kinders is dood aan masels en die komplikasies daarvan.
Van die 1 514 mense wat na twee maande in die kamp was, het 706 in die kamp
gewoon terwyl 808 vroue en kinders in huise en in die tronk gebly het. Daar was 93 tente,
naamlik een markiestent, twee vierkantige, dertig seiloortrekte en sestig ronde tente,
waarvan laasgenoemde in die somer onuithoubaar was, weens die warmte en skroeiende son.
In die winter was die klimaat op Nylstroom beter as in die Hoëveldse kampe en
vuurmaakgoed was hier voldoende. Maar die tente was hier besonder oud en vuil, met ses
mense in die kleiner en tot vyftien mense in die groter tente.
Die meeste huise in die dorp was ook maar baie klein; party net 'n hut of
kamertjie. In die dertien klein, bedompige, vuil tronkselle was 62 mense gehuisves, maar
dit was koeler as die tente en hier het die mense velletjies vleis opgehang om droog te
word soos biltong. 28 mense het in die ou Gereformeerde Kerk gebly en is later oorgeskuif
na 'n markiestent, toe die kerk gebruik is as skool vir kampkinders. Die pastorie met vier
kamers is ingerig as 'n hospitaal met tien beddens.
Oom Willie Boshoff skryf: "Die
meubels het bestaan uit 'n kateltjie of soms net 'n matras. Toe my ma kamp toe is, was
daar ses vroue wat die nodige op drie muiltrollies moes laai. Natuurlik kon die hensoppers
se gesinne baie meer saamneem. Daar was Bybels en skoolboeke wat die vroue gelees het.
Nylstroomstasie was pure doringbome, maar dis heeltemal uitgeroei en afgekap om aan die
vroue vuurmaakhout te gee."
"Ou mans het die werk van houtkap en gruisklippe-kap gedoen. Ou oom Hans
van Staden van Doornkop het net daar omgekap en is op 'n draagbaar van laken en
stokke weggedra."
|
| |
|

Kliek duimnael vir groter weergawe |
Fotobyskrif: Engeland se indringing van
Transvaal en die Vrystaat het op 'n oorlog uitgeloop, waartydens 26 251 Boerevroue en
-kinders in konsentrasiekampe vermoor is. Hierdie gedenkteken, wat 'n tent simboliseer, is
later deur die Oorlogsgraftekomitee by Nylstroomkampkerkhof opgerig. |
| |
| Die
vroue moes ook tou staan vir kos en dit gaarmaak in opgetelde blikke. Hulle voorrade was
soos in die ander kampe: rou vleis net tot Julie 1901, bully-beef, meel, koffie, suiker,
sout, blikkiesmelk en mieliemeel. As voorrade opgeraak het, moes die vroue net daarsonder
klaarkom. Gelukkig was daar 'n fontein waarvandaan hulle water moes aandra. Dit is nog te
sien naby die Gereformeerde Kerk. Doringdraad is om die kamp gespan en is snags deur ses Zoeloes bewaak. Nege
polisiemanne is in die kamp aangestel, 'all burghers selected from among the refugees'.
Natuurlik hensoppers!
Die skaapvleis was net vel en been en vroeg die oggend in die ry, toe 'n bekende
kwaai tannie, mev Rautenbach van Potgietersrus, se naam uitgeroep word
ontvang sy 'n ribbetjie. Sy neem dit en gooi dit so hard as wat sy kan teen die Engelsman
dat hy agteroor val, met die volgende woorde: 'Geen hond kan
dit eet nie!' Die dag se kosuitdelery word toe verder gestaak, maar van
die volgende dag af was die vleis beter!
As gevolg van bedrywighede van generaal Beyers in die Pietersburg-omgewing, en
nadat hy op 23 Januarie 1902 die Pietersburg-konsentrasiekamp binnegeval en 150 burgers
bevry het, het die Engelse besluit om die Pietersburg- en Nylstroom-kampe
na Irene, Pretona, te verskuif. Dit het
aan die einde van Maart 1902 plaasgevind.
Sommiges het in oop treintrokke in
gietende reën in Irenekamp aangekom, party met sakke om hulle
lywe, ook dié wat gewoond was aan luukshede. Die eerste slagoffer van die Nylstroomkamp is op 31 Maart op Irene begrawe.
Die Nylstroomkamp
het 'n klein getal mense oorgehou en is waarkynlik eers vroeg in Desember 1902 gesluit.
Die laaste maselslagoffer was die 3-jarige GM Oosthuizen. Besonder baie
De Beer-, Pretorius-, Prinsloo-, Van Rooyen en Van Staden-kindertjies is in die kamp dood.
Die suigeling van C Louw het na geboorte net vier uur geleef.
Ds JA van Rooy van die Gereformeerde Kerk het geveg, maar met Beyers se
goedkeuring teruggekom om die vroue geestelik te versorg. Hy is gevra om die
konsentrasiekampmonument op Nylstroom te onthul, en het in sy voorwoord in die program
geskryf:
|
|
|
"Ons mag tog al die gebeurtenisse nie aan die
vergetelehid prijs gee nie...Een enkel geval wat mij verhaal is: 'n Sekere vrouw kom terug
van die wasplek en ontmoet 'n ander onderweg. 'Tante,' sê sij, 'Gee mij tog iets om te
eet of ik sterf.' 'Niggie, gaan maar in mij tent en eet wat jij kan krij,' was die
antwoord. Die volgende môre word Tante geroep. 'Kom kijk tog wat is dit met mij ma! Tante
gaat binne en vind die niggie dood op haar bed en haar babetjie nog sui'ende aan die bors.
Kan ons vergeet? Mag ons vergeet? Nee, ons wil nie! Daarom word die monument opgerig! Ere
aan die Voortrekkersvrouw en Voortrekkersdochter! Want hulle leuse was:
Getrou tot die Dood!" |

Kliek duimnael vir groter weergawe |
|
Fotobyskrif: Die
konsentrasiekampmonument op Nylstroom. |
| Met dank aan mnr Roelf Odendaal, skrywer van Waterberg op Kommando,
vir sy hulp. |
- Meer inligting oor die Tranvaalse kamp in Klerksdorp
|
| |




|