"Halt! You are under arrest!" weergalm 'n stem oor die perron.
Malie Malan kyk nuuskierig oor haar skouer om te sien waaroor die bohaai gaan.
Tot haar verbasing kom die eienaar van die stem, 'n Britse soldaat, reg op haar afgepeil.
"You know wearing that flag is against the law!", bars hy uit, en sy
wange word rooi soos hy gal afgaan.
Malie moet haarself keer dat haar mond nie oophang nie. Is die man van lotjie
getik, wonder sy. Waarvan praat hy?
"Don't try to hide it! Show me!"
Vir 'n oomblik dink sy hy gaan haar klere van haar lyf skeur. "Ek is
jammer, maar ek weet nie waarvan jy praat nie," antwoord sy in perfekte Engels.
Haar gebruik van sy eie taal vang die Kakie onkant, en vir 'n oomblik lyk dit of
hy weifel: "Don't try to bluff me. I saw you are wearing the Veer-kleer" (hy
stotter oor die moeilike woord) "under your cape, when the wind blew it to the
side."
Met 'n effense frons kyk sy af, trek die mantel effens weg, om haar rok se
donkerbruin lyfie met sy roomkleurige kantborsie ten toon te stel en toe begin sy te
skater van die lag.
Die mense wat langs haar staan gaan ook aan die lag. Die Kakie trap ongemaklik
en ongeduldig rond.
"Oh, there's your Veer-kleer," sê sy met klem op die krom uitspraak
wat sy na-aap. Sy dop die manteltjie se punt om, en wys aan hom die voering van wit, rooi
en groen geruite satyn.
Die Kakie lyk of sy oë gaan uitval, en hy word weer rooi in die gesig voor hy
omdraai en kamma-ongeërg wegstap. |