Die Bloemfontein-kamp was een van die eerste
konsentrasiekampe in die Vrystaat en het reeds in Oktober 1900 bestaan. Weens
die toename in die getal vroue en kinders wat daar aangehou is, moes die kamp
mettertyd in twee verdeel word. Dit het in September 1901 reeds uit die "nuwe"
en "ou" kamp bestaan. Hierdie kamp was meer as drie myl
buite Bloemfontein, teen dorre koppies aan die westekant van die dorp. Soos
ander kampe in die Vrystaat, is die inwoners van die kamp hoofsaaklik in
kloktente gehuisves. 'n Paar het egter markiestente gehad.
Bloemfontein-kamp was geen uitsondering ten opsigte van die
groot aantal sterftes wat in die kamp plaasgevind het nie. Die inwoners was
verplig om hulle geliefdes besonder ver na hulle laaste rusplek, in die
President Brand- en Memoriam-begraafplase, te neem.
Een van die mees opvallende kenmerke van die
Bloemfontein-kamp, was die skaarste aan water wat deurentyd ondervind is.
Pogings moes gedurig aangewend word om voldoende was- en drinkwater te voorsien.
Benewens hospitaalgeriewe, beslaan aanbevelings oor watervoorsiening die
grootste deel van die Dameskomitee se verslag oor die kamp.
Ander oorsake van ongerief en sterftes onder die kampinwoners,
was die swak voedselvoorsiening (veral vleis), die gebrek aan behoorlike
matrasse, en die gebrek aan mediese sorg.
Die Vrouemonument,
as simbool van lyding en sterwe onder vroue en kinders van al die kampe, is
besonder gepas in Bloemfontein opgerig, waar die grootste deel van die
kampbevolking in die Vrystaat saamgetrek was.
Die beproewings van die vroue in die kampe is sekerlik enig in
sy soort. Nog nooit tevore is byna 'n hele vrougeslag van 'n volk ontwortel, en
in sulke moeilike omstandighede geplaas nie. Hulle moes daagliks letterlik veg
om oorlewing.
Vroue van voortreflike karakter is deur parmantige en
onbeleefde offisiere en amptenare in draadkampe geplaas, vir beuselagtighede of
denkbeeldige oortredings.
Die kamp se bevolking het van 4704 in Julie 1901, tot 6322 aan
die einde van November 1901 toegeneem. Volgens
Emily Hobhouse, moes daar tot tien persone in een kloktent woon. Dit het
volgens dr. Henry Becker, 'n regstreekse bydrae tot siekte-epidemies in die kamp
gelewer.
Twee-derdes van die inwoners moes op die grond slaap. Dit het
tot longontsteking gelei.
Vanaf 1 Mei tot 18 September 1901 het 524 mense in die kamp
gesterf. Die totale getal sterftes in die kamp was 1695.
Elke persoon het een pint (sowat 450 ml) water per dag
ontvang. Dit is met waens van die Modderrivier af aangery. Om die gebrekkige
watervoorraad aan te vul, was daar drie waterpompe in die kamp.
Mattie Pretorius skryf dat sy elf uur in die son by die pomp
moes staan, om twee emmers water - en dit vir sewe persone - te ontvang.
Mev AS Greyling maak melding van die ou dam waarin die vroue
hulle wasgoed gewas het. Hulle het dit die Dam van Trane genoem.
Sterfgevalle
As iemand gedurende die nag gesterf het, het die vroue die
liggaam uitgedra, en in 'n paadjie langs die tente geplaas. Dan het 'n
perdewaentjie stadig nadergery. Die drywers het uitgeroep: "Anyone dead?" Die
familie het dan die lyk op die waentjie gelaai, wat soms reeds half-vol lyke
was. Die lyke is langs mekaar en bo-op mekaar gepak.
|