Die mense wat daar
saamgehok was, het geen tente gehad nie. Sommiges het onder die
treintrokke ingekruip en ander het stukkies seil by die Tommies
gebedel. Hulle het 'n paar stokke in die grond gesteek en die
seil daaroor gegooi, om noodskuiling te maak waarbinne 'n mens
nie kon regop staan nie.
Ek is na een van die
skuilings geroep om na 'n siek kind te kyk. Die moeder het op 'n
kissie gesit met die kind op haar skoot. Sy het niks gehad om
vir die kind te gee nie en dit was duidelik dat die kind se
toestand vinnig verswak het.
Ek het iemand na die
opsigter van die kamp, 'n myl daarvandaan, gestuur om hom iets
vir die siek kind te vra, maar hy het laat weet dat hy net vir
die kamp voorraad lewer.
Daar was niks wat ons kon doen nie. In
eerbiedige stilte moes ons toesien hoe die kind sterf.
Die moeder het nie beweeg of getreur nie.
Dit was haar enigste kind. Sonder trane en
doodsbleek het sy daar gesit.
Sy het nie na die kind gekyk nie, maar na die
dieptes van smart wat verder was as alle trane. 'n Vriendin, wat
agter haar gestaan het, het die Here aangeroep om hierdie
tragedie te aanskou, terwyl ander vroue om haar op die grond
troosteloos gehuil het.
Hierdie toneel het 'n onuitwisbare indruk op
my gemaak. Dit was asof al die elemente van tragedie in hierdie
land saamgevloei het onder daardie stukkie flenterseil wat nie
die son, wind of reën kon keer nie!
Jare later, toe mnr
Van Wouw (Anton van Wouw, wat ook die Oorlogsmonument ontwerp
het) Rome toe gekom het om die opdrag uit te voer, het ek hom
vertel van die toneel wat vir my die uitbeelding en kern van die
tragedie was: Gebroke vroue en 'n sterwende kind.