Hierdie
konsentrasiekampterrein (Doornbult)
is aan die Kaapse kant van die Oranjerivier langs die spoorlyn vanaf De Aar na Kimberley.
Die
huidige grondeienaar, Rina Wiid, is streng in haar toesig om die kampterrein ongeskonde te
bewaar, sodat die besoeker werklik 'n gevoel kan kry van die omstandighede wat daar
geheers het.
Hier is
'n interessante konsentraat van oorlogsgetuienis en oorlogsnagedagtenis: Die
begraafplaas, kampterrein, 'n blokhuis, fort, trembrug, kanonpad,
skanse, put en stasiegebou.
Die
begraafplaas is uniek. Dit is nog die oorspronklike grafte en is gepak en versier met wit
klippe uit die omgewing.
In die
kampterrein, wat in baie opsigte nog ongeskonde is, lê talle voorbeelde rond van
gebruiksartikels soos blikkies (veral kondensmelk), potte, panne, visblikkies, die
handvatsels van strykysters en so meer.
In die
gees sien 'n mens juis daar ons volksgenote, wat onder dwang saamgehok is om in wind en
weer op so 'n primitiewe manier onder beproewing liggaam en siel aan mekaar te hou.
Die
plaas, Doornbult, waarop die kamp geleë was, het aan 'n Du Toit behoort. Die kamp het
vanaf April 1901 tot November 1902 bestaan. Vanaf 1 Augustus 1901 is die kamp amptelik as
'n konsentrasiekamp erken, wat beteken dat daar nie meer militêre rantsoene verskaf sou
word nie en dat dit voortaan ondere siviele administrasie sou staan.
Teen
die einde van Augustus 1901 was hier meer as 1600 mense; almal vanaf die noordekant van
die Oranjerivier.
Vroue,
kinders en mans vanuit die Vrystaat: Boshoff, Edenburg, Fauresmith, Koffiefontein en
selfs Kroonstad, is op muil- en perdewaens hierheen aangekarwei.
Die
meeste waens was oop en die mense moes dae lank die reën, wind en koue trotseer met min
of geen voedsel.
Op Doornbult is hulle sonder heenkome
afgegooi. Daar was nog nie tente nie; dit moes van De Aar af bestel word. Party vroue met
babas het skuiling gevind in die enkele groot tent wat daar wel was, maar die meeste moes
tot vier dae onder die blote hemel deurbring.
Die
meeste mense is tussen Julie en Augustus 1901 hierheen gebring. Dit was een van die
koudste winters nog aangeteken.
Die
uniekheid van hierdie kampterrein lê in sy ongeskondenheid. Honderd jaar gelede se
blikke, skerwe, drade, spykers, perdeskoene en dies meer, lê daar rondgestrooi. Tot die
rondings waar die tente was, is nog sigbaar.
Gesinne
is in kloktente gehuisves. Die tente was min en oorvol -- soms tot twaalf persone in
'n tent wat net plek vir vyf het.
In
Julie 1901 het baie reën die kamp, wat in 'n pan was, oorstroom. Vroue moes lank met
kinders op die heup of rug, in die tente regop staan, terwyl die donder en blitse om hulle
slaan.
Dr
Edwards, 'n simpatieke Ier; het die kamp na 'n hoër deel laat verskuif. Dit het met groot
ontbering gepaard gegaan, maar toe was hulle darem uit die water. Hulle moes op die nat
grond slaap, wat longontsteking tot gevolg gehad het.
Water
is uit toegedekte putte verkry. Inwoners is toegelaat om twee keer per dag die 2,5
kilometer na die putte te voet af te lê om water te skep.
Ten
spyte van die stof, min kos en vuurmaakgoed, siektes, nood en dood, sê tannie
Bezuidenhout wat in die kamp was, het hulle geloof in lofsange die aandlug gevul.
|