|
Waterbergse-konsentrasiekamp,
Nylstroom
|
"Nieteenstaande allerlei
skrikaanjagende gerugte oor die handelswijs van die naderende Britse
troepe, was mij antwoord: 'Hulle is tog beskaafde mense en Kristene
oor algemeen net soos ons, Tante,' aan 'n ou'e moeder in
Swa'ershoek, toe sij mij angsvallig vra: 'Sal hulle ons tog nie sleg
behandel nie als hulle ons in hande krij?' Ik wis toe nog nie dat
mij ei'e vrouw en kinders met andere saam in 'n stortbui op 'n
volgepakte perretruk moes opklouter met
Irene kamp als bestemming. Hoe beskaamd moes ik agterna uitkom!"
(Ds JA van Rooy van Nylstroom)
In Maart tot April 1901 het die Britse magte die
Waterbergse gebied al met die spoorlyn langs binnegedring tot in
Soutpansberg. Die Boere het geweet dat Kitchener ook hier sy
verwoestingsbeleid gaan toepas, en gesorg dat die vroue, kinders en
ou mense dieper die Bosveld intrek.
Vroue het met hulle vee en graanbelaaide waens voortgetrek en
verskillende laers gevorm, maar hulle is die een na die ander deur die Engelse
oorrompel en teruggevoer na Nylstroom, 'n klein Waterbergse dorpie wat aan die
hoofspoorlyn tussen Pretoria en Pietersburg lê.
Die agtergeblewe gesinne is ook van hulle plase af weggevoer
Nylstroom toe en die huise en skure op die plase is afgebrand tot op die grond.
Alle diere is weggeneem of doodgesteek.
|
|
"Laat ons 'n dekmantel werp
op goddelose wandade en onmenselike wreedhede ook op hierdie
sogenaamde 'Agtervelde' gepleeg deur barbaarse swartes en enkele
persone met blanke vel maar ewe swart harte, - want ook hier is
dinge gebeur wat die lijder daaronder net so goed als die pleger
daarvan verkies ongerep te blij liewer dan aldeur opgerakel te
word." |
|
Hier en daar het die Engelse troepe
'n gesin agtergelaat, met alles verbrand en verwoes, dakloos, sonder
'n kriesel kos of medisyne, om die Boere plase toe te lok. Dit was
"hemeltergend" om te aanskou hoe die ander vroue, bejaardes en
kinders te voet aangejaag is en die grootste vernedering moes
verduur. Vroue van vegtende burgers is as gevangenes beskou en
behandel. Die rede vir die ellende waarin die vroue en ou mense
verkeer het, was die vreeslike haas waarmee hulle uit hulle huise
geskop is. Baie het met leë hande by die kampe aangekom.
So het die Nylstroomkamp op 1 Junie 1901 ontstaan met kaptein Henry
Cooke as hoof. Die kamp is opgeslaan op die destydse oop plein
tussen die Gereformeerde Kerk en die Braksloot, wes-suid-wes van die
spoorwegstasie, op die terrein waar die Eenheidskool tans is. Met
die opening was daar 743 mense; die einde van die maand was daar
reeds 1087 en na twee maande het die getal tot 1514 gestyg. In
September is die hoogtepunt bereik met 'n inwonertal van 1851,
bestaande uit 683 vrouens, 835 kinders en 332 mans.
|
Fotobyskrif: Mev Lucia
van den Berg van die Vroue-komitee op 10 Oktober 1998 in Nylstroom
se konsentrasiekampkerkhof saam met Simon van der Westhuizen
(middel), Martin en Andries van Heerden. Simon hou 'n seepkissie
vas. (Foto regs) |
Kliek duimnael vir groter weergawe |
Van die kampinwoners het 544 gesterf,
en dit vir so 'n dunbevolkte gebied soos Waterberg! Die meeste
kinders is dood aan masels en die komplikasies daarvan.
Van die 1 514 mense wat na twee maande in die kamp
was, het 706 in die kamp gewoon terwyl 808 vroue en kinders in huise
en in die tronk gebly het. Daar was 93 tente, naamlik een
markiestent, twee vierkantige, dertig seiloortrekte en sestig ronde
tente, waarvan laasgenoemde in die somer onuithoubaar was, weens die
warmte en skroeiende son.
In die winter was die klimaat op Nylstroom beter as in die
Hoëveldse kampe en vuurmaakgoed was hier voldoende. Maar die tente was hier
besonder oud en vuil, met ses mense in die kleiner en tot vyftien mense in die
groter tente.
Die meeste huise in die dorp was ook maar baie klein; party
net 'n hut of kamertjie. In die dertien klein, bedompige, vuil tronkselle was 62
mense gehuisves, maar dit was koeler as die tente en hier het die mense
velletjies vleis opgehang om droog te word soos biltong. 28 mense het in die ou
Gereformeerde Kerk gebly en is later oorgeskuif na 'n markiestent, toe die kerk
gebruik is as skool vir kampkinders. Die pastorie met vier kamers is ingerig as
'n hospitaal met tien beddens.
Oom Willie Boshoff skryf: "Die meubels het bestaan uit 'n
kateltjie of soms net 'n matras. Toe my ma kamp toe is, was daar ses vroue wat
die nodige op drie muiltrollies moes laai. Natuurlik kon die hensoppers se
gesinne baie meer saamneem. Daar was Bybels en skoolboeke wat die vroue gelees
het. Nylstroomstasie was pure doringbome, maar dis heeltemal uitgeroei en
afgekap om aan die vroue vuurmaakhout te gee."
"Ou mans het die werk van houtkap en gruisklippe-kap gedoen.
Ou oom Hans van Staden van Doornkop het net daar omgekap en is op 'n draagbaar
van laken en stokke weggedra."
|
|
Kliek duimnael vir groter weergawe |
Fotobyskrif: Engeland
se indringing van Transvaal en die Vrystaat het op 'n oorlog
uitgeloop, waartydens 26 251 Boerevroue en -kinders in
konsentrasiekampe vermoor is. Hierdie gedenkteken, wat 'n tent
simboliseer, is later deur die Oorlogsgraftekomitee by
Nylstroomkampkerkhof opgerig. |
|
Die vroue moes ook tou staan vir kos en dit
gaarmaak in opgetelde blikke. Hulle voorrade was soos in die ander
kampe: rou vleis net tot Julie 1901, bully-beef, meel, koffie,
suiker, sout, blikkiesmelk en mieliemeel. As voorrade opgeraak het,
moes die vroue net daarsonder klaarkom. Gelukkig was daar 'n fontein
waarvandaan hulle water moes aandra. Dit is nog te sien naby die
Gereformeerde Kerk. Doringdraad is om die
kamp gespan en is snags deur ses Zoeloes bewaak. Nege polisiemanne
is in die kamp aangestel, 'all burghers selected from among the
refugees'. Natuurlik hensoppers!
Die skaapvleis was net vel en been en vroeg die oggend in die
ry, toe 'n bekende kwaai tannie, mev Rautenbach van Potgietersrus, se naam
uitgeroep word ontvang sy 'n ribbetjie. Sy neem dit en gooi dit so hard as wat
sy kan teen die Engelsman dat hy agteroor val, met die volgende woorde: 'Geen
hond kan dit eet nie!' Die dag se kosuitdelery word toe verder gestaak, maar
van die volgende dag af was die vleis beter!
As gevolg van bedrywighede van generaal Beyers in die
Pietersburg-omgewing, en nadat hy op 23 Januarie 1902 die
Pietersburg-konsentrasiekamp binnegeval en 150 burgers bevry het, het die
Engelse besluit om die Pietersburg- en Nylstroom-kampe na
Irene, Pretona, te verskuif. Dit het aan die einde van Maart
1902 plaasgevind.
Sommiges het in oop
treintrokke in gietende reën in Irenekamp
aangekom, party met sakke om hulle lywe, ook dié wat gewoond was aan luukshede.
Die eerste slagoffer van die Nylstroomkamp is op 31 Maart op Irene begrawe.
Die Nylstroomkamp het 'n klein getal mense oorgehou en is
waarkynlik eers vroeg in Desember 1902 gesluit. Die laaste maselslagoffer was
die 3-jarige GM Oosthuizen. Besonder baie De Beer-, Pretorius-, Prinsloo-, Van
Rooyen en Van Staden-kindertjies is in die kamp dood. Die suigeling van C Louw
het na geboorte net vier uur geleef.
Ds JA van Rooy van die Gereformeerde Kerk het geveg, maar met
Beyers se goedkeuring teruggekom om die vroue geestelik te versorg. Hy is gevra
om die konsentrasiekampmonument op Nylstroom te onthul, en het in sy voorwoord
in die program geskryf:
|
|
"Ons mag tog al die
gebeurtenisse nie aan die vergetelehid prijs gee nie...Een enkel
geval wat mij verhaal is: 'n Sekere vrouw kom terug van die wasplek
en ontmoet 'n ander onderweg. 'Tante,' sê sij, 'Gee mij tog iets om
te eet of ik sterf.' 'Niggie, gaan maar in mij tent en eet wat jij
kan krij,' was die antwoord. Die volgende môre word Tante geroep.
'Kom kijk tog wat is dit met mij ma! Tante gaat binne en vind die
niggie dood op haar bed en haar babetjie nog sui'ende aan die bors.
Kan ons vergeet? Mag ons vergeet? Nee, ons wil nie! Daarom word die
monument opgerig! Ere aan die Voortrekkersvrouw en
Voortrekkersdochter! Want hulle leuse was:
Getrou tot die Dood!" |
Kliek duimnael vir groter weergawe |
Fotobyskrif: Die
konsentrasiekampmonument op Nylstroom. |
Met dank aan mnr Roelf Odendaal, skrywer van
Waterberg op Kommando, vir sy hulp. |
- Meer inligting oor die Tranvaalse kamp in
Klerksdorp
|
| |
|