Werfkaart
Konsentrasiekampe
Transvaal
OVS
Kaap
Natal
   
Sitemap
Concentration Camps
Transvaal
OFS
Cape
Natal

Concentration camps during the Anglo Boer War

     
LW: Hierdie webwerf is deel van ARKpark se argief
NB: This site is part of ARKpark's archive

Hersien: 7 Februarie 2023 ** Revised: February 7, 2023

    

    

 

 Kleredrag tydens die Tweede Vryheidsoorlog

 

Vrouedrag tydens die Tweede Vryheidsoorlog

 
Bloese en rompe (Inligting soos verskyn het in De Camp Courant nommer 4)
 
Teen die tyd dat die oorlog in 1899 uitgebreek het, was daar 'n klompie Boerevroue wat baie welgesteld was. Daar was egter ook dié wat maar gesukkel het om 'n bestaan te voer.

Dié wat dit kon bekostig, het klere by die groot winkels op die dorpe en in die stede gekoop en dikwels selfs per katalogus van oorsee af bestel.

 


Kliek duimnael vir groter weergawe
Fotobyskrif: 'n Groep vroue in 'n Vrystaatse konsentrasiekamp.
Foto voorsien deur die Nasionale Kultuurhistoriese Museum

Alternatiewelik is 'n prentjie uit 'n tydskrif na 'n kleremaakster geneem, terwyl baie ook hulle eie klere gemaak het.

Mense het natuurlik werksklere en kisklere gehad. Dit het nie soseer in snit verskil nie, maar beslis in materiaaltipe en versiering.

‘n Plaasvrou sou nie in 'n syrok staan en seep kook nie. Verder was daar plaasvroue, dorpenaars en stedelinge.

 

Foto's wat skuins voor die Oorlog geneem is, toon baie Boerevroue in deftige, modieuse drag, maar daaraan sou die oorlog 'n einde bring.

Die Engelse se afbrand van huise en vernietiging van besittings, het veroorsaak dat menige vrou slegs die klere aan haar lyf oorgehou het.

  • Net kisklere gered

Gevalle is opgeteken waar vroue 'n paar rokke oor mekaar aangetrek het vir ingeval hulle weggevoer sou word. Dikwels was dit die kisklere wat gered is.

Met verloop van tyd het klere al skaarser geword en het vroue vir hulleself van al wat lap is - tot Kakiekomberse en saggebreide leer - klere gemaak. Rokke is oor en oor gelap.

 

Fotobyskrif: Die Boerevroue was fyn, netjiese mense, wat selfs in die Britse helkampe nie hulle waardes verloor het nie. Elizabeth van Niekerk, gebore Davel (links) en twee vriendinne was in die konsentrasiekamp naby Durban. Die dame in die middel het al drie hierdie rokke in die kamp gemaak van materiaal wat sy kon red toe die kakies haar huis afgebrand het.

Photo: Boer woman, were dainty and neat people, did not loose their values in the British hell camps. Elizabeth van Niekerk, (maiden name Davel (left) and two friends, were in the concentration camp near Durban. The lady in the middle made al three dresses for material she was able to rescue from her house before it was burnt down by English soldiers (Khakis)

 
  • Emily Hobhouse

Emily Hobhouse skryf hoe menige vrou haar naaimasjien gered het en kamp toe geneem het.

Sy en haar komitee, wat probeer het om die lyding in die kampe te verlig, het menige hulpbehoewende vrou en kind van klere voorsien, wat wyd en syd ingesamel is.

Hulle het ook materiaal uitgedeel, waarvan die vroue dan self klere gemaak het.

Na die oorlog was die situasie net so erg. Baie vroue het nog steeds slegs die rokke waarin hulle kamp toe is, besit. In so 'n geval moes 'n vrou dikwels langs die water sit en wag vir die rok om droog te word nadat sy dit gewas het, voordat sy met haar dagtake kon voortgaan. Veral in die winter was dit erg.

 


Kliek duimnael vir groter weergawe
Fotobyskrif:  'n Paar Boerevroue wat tydens die Tweede Vryheidsoorlog in die tronk beland het, met tipiese drag uit daardie tyd.

Oor die algemeen is rompe met bypassende stywe lyfies of losser bloese van 'n ander materiaal gedra, dikwels met 'n bypassende baadjie daarby.

Daar is volle besonderhede, asook patrone, in 'n handleiding beskikbaar. Dit is deur die Nasionale Kultuurhistoriese Museum gepubliseer.

Vir meer besonderhede kan André Malan of Annemarie Carelsen genader word.

 

Kinderklere tydens die Tweede Vryheidsoorlog

(Bydrae geskryf deur André Malan) (Inligting soos verskyn het in De Camp Courant nommer 6)

 

Teen die tyd dat die Tweede Vryheidsoorlog uitgebreek het, het kindermodes al 'n rewolusie ondergaan. Voorheen het kinders meestal soos miniatuur weergawes van hulle ouers gelyk. Eers teen die einde van die Victoriaanse era het kinderklere verander, hoofsaaklik te danke aan verbeeldingryke sketse van kinderboek-illustreerders. Te oordeel aan foto's uit daardie tyd, was die Boere heel bewus van dié neiging.

Die Boerekind het altyd iets op die kop gehad; die seuns vilt- of strooihoede en die dogters kappies.

Seuntjies het knielengte kortbroeke met kruisbande, langmouhemde en baadjies gedra. Knielengte swart kouse is vir spesiale geleenthede saam met skoene aangetrek. Vir kisdrag was 'n deftige fluweelpakkie met 'n kantkragie gewild vir klein seuntjies. Ook matroospakkies is gedra.

Ouer seuns het onderbaadjies gedra. Die oorskakeling na langbroekdra was 'n aanduiding dat 'n seun man word.

Dogtertjies het rokkies met hoë lyfies, waaraan die rompe ingeryg is, gedra. Die romp het tot net onder die knie gehang. Pinafore-tipe voorskote is bo-oor gedra om die rok te beskerm. Ook hulle het swart kouse en skoene gedra.

Ouer meisies se rokke het die snit van hulle ma's s'n begin volg; meestal 'n romp met los bostuk of bloes, maar eers as sy haar Boerematriek geslaag het, is die rok se lengte tot op die enkels verleng.

Soos die oorlog gevorder het, het die kinders se klere agteruitgegaan. Dié wat onverhoeds betrap is, was die slegste daaraan toe. Hulle klere was gou gehawend en hulle was op die goedhartigheid van ander aangewese. Ander se ma's het hulle vroegtydig 'n paar stelle klere oormekaar laat aantrek, sodat hulle langer geklee kon bly. Met die wegvoering na die konsentrasiekampe, is mense met net die klere aan hulle lyf  toegelaat.

Emily Hobhouse skryf egter dat talle kinders kaalvoet en sonder onderklere in die dunste kleertjies in die kampe rondgeloop het.

 

Hoed of kappie?
(Inligting soos verskyn het in De Camp Courant nommer 3)

 

Fotobyskrif: 'n Groep Boerevroue in Newcastle met gewere en bandeliers, maar keurig geklee in die mode van daardie tyd. Hier kan gesien word dat hoede, eerder as kappies, as uitgaandrag gedra is.

 
Het die Boerevroue tydens die Tweede Vryheidsoorlog hoed of kappie gedra? Watter een sou meer gepas wees om tydens die herdenkingsgeleenthede te dra?

Net soos die geval met die Voortrekkervroue, is daar 'n geykte gedagte dat die vroue tydens die Tweede Vryheidsoorlog almal met swaar, swart kappies rondgeloop het.

Die feit is egter dat daar teen die tyd dat die oorlog uitgebreek het 'n wye sosiale spektrum onder die Boere bestaan het. Party was welgesteld en party arm. Party het in of naby stede of groot dorpe gewoon en ander afgesonderd op verafgeleë plase.

Die gevolg was 'n groot verskil in kleredrag. Vroue met groter beursies en nader aan die geriewe van die winkel en professionele kleremakers, het beter aangetrek as hulle armer susters.

Foto's uit daardie tyd wys dat, selfs in die konsentrasiekampe, sowel die hoed as die kappie gedra is.

  • Hoe lyk die hoed?

Die strooihoed of "boater" met sy vlak, plat bol en breërige stywe rand was baie gewild, veral onder die jonger vroue. 'n Breë hoedeband van gestreepte lint is om die bol gestrik. Een vrou het glad in hierdie lint geld versteek voordat sy gevang is, en het daarmee geslaag om te oorleef.

'n Hoed van dieselfde vorm, getooi met drapeersels en vere, wat dikwels aan die een kant optoring die lug in, is ook deur die ouer garde gedra.

  • Hoe lyk die kappie?

Die kappie het in verskillende vorms voorgekom, meestal swart of wit van kleur, maar voorbeelde van lap met fyn kolletjies of patroontjies het ook bewaar gebly.

Hierdie kappies is veral op die platteland gedra as beskerming teen die fel son. Dikwels is 'n lap om die kop gewikkel voor die kappie opgesit is.

Die sloopkappie is in 'n halfsirkel gesny en 'n skuifie om die geronde kant op 'n reëlmatige afstand van die soom gewerk, waarin 'n toutjie geryg is wat ingetrek is om die bol aan die een kant en die nekval aan die ander te vorm. Die rand self is dubbel, met 'n tussenvoering, en deeglik deurgestik in sierpatroontjies om dit styf te laat staan. 'n Valletjie wat in die middel opgeryg of geplooi is, versier dikwels die kappie waar die rand ophou.

Bo en behalwe die lapkappie, was daar ook die sogenaamde "bonnet", wat veral die ouer vroue as deftige drag gedra het. Dit was kleinerige, ronde hoedjies van duur lap soos brokaat of fluweel of spesiale hoedegaas, wat oor 'n draadraamwerk getrek is en met vere, glaskrale en blinkertjies versier is. Dit is met twee lang linte wat om die ken gestrik is, op die kop gehou.

Boerevroue wat periodedrag vir die feesgeleenthede wil aantrek, het dus 'n wye keuse van hoofbedekkings.

 

De Camp Courant
Op / Up
Oorsig
Konsentrasiekampe
Transvaal
OVS
Kaapland
Natal
Vyande
Oorlogsgebeure
Krygsgevangenes
Modes
Projekte
Organiseerders
Volgende uitgawe
Dank
Inligtingsversoek
Inligting

 

 

ADSA Advertensies

ARK Webontwerp sedert 1998
ARK Web Design since 1998

piazza.arkpark.com

Swallow Software at swallowsoftware.arkpark.net
swallowsoftware.arkpark.net
Calgary, Alberta

ARK Webontwerp © 1998 - 2023
ARK Web Design © 1998 - 2023

Engel met God se Woord, die Bybel

Bekering

'n Christen…

Bybelteks

Bible Text